9 Die een gebied wat julle as offergawe aan die Here afstaan, moet twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees.
10 Dié gebied moet 'n gewyde offergawe wees wat tot die beskikking van die priesters is, en moet 'n strook wees van twaalf en 'n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here moet in dié gebied wees.
11 Die gebied is tot die beskikking van die gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle het my dienswerk getrou gedoen en nie afgedwaal soos die Israeliete nie, soos die Leviete gedoen het.
12 Die gebied moet 'n offergawe wees, wat tot beskikking van die priesters is, 'n deel van die gebied wat as offergawe afgestaan word, 'n gewyde gebied langs dié van die Leviete.
13 “Die Leviete moet 'n gebied kry langs dié van die priesters, twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed.
14 Hulle mag nie daarvan verkoop nie. Hierdie deel van die land, die beste deel, mag nie verkoop of verruil word en in ander hande oorgaan nie, want dit is aan die Here gewy.
15 “Die strook van twaalf en 'n half by twee en 'n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, as woon- en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees.