1 “Mens, vat 'n skerp swaard en gebruik dit vir 'n skeermes en skeer af jou hare en jou baard. Vat dan 'n skaal en deel die hare in drie.
2 'n Derde moet jy binne-in die stad verbrand sodra die beleg verby is, 'n derde moet jy met die swaard rondom die stad fynkap, en 'n derde moet jy deur die wind laat wegwaai. Ek sal hulle met die swaard agtervolg.
3 Jy moet 'n klompie hare agterhou en in die vou van jou klere toemaak,
4 en van hulle moet jy nog 'n paar vat en in die vuur gooi en verbrand. Daar sal 'n vuur daarvandaan uitgaan na die hele Israel toe.”
5 So sê die Here my God: “Hier is Jerusalem tussen die nasies waar Ek hom geplaas het, met ander lande rondom hom.
6 Maar hy het hom verset teen my bepalings en my voorskrifte, hy was erger as die nasies en die lande rondom hom. Sy inwoners het my bepalings verwerp en het nie volgens my voorskrifte geleef nie.”
7 So sê die Here my God: “Julle het erger te kere gegaan as die nasies rondom julle toe julle nie volgens my voorskrifte en my bepalings geleef het nie; julle het nie eens volgens die gebruike van die nasies rondom julle geleef nie.