6 Hier volg nou 'n afskrif van die brief wat goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat, aan koning Darius gestuur het.
7 Hulle het aan hom verslag gedoen en soos volg geskryf:“Aan koning Darius. Alle voorspoed!
8 “Ons bring tot die koning se kennis dat ons na die provinsie Juda toe gegaan het en daar by 'n groot tempel uitgekom het. Dit word gebou van gekapte klip en die balke word al op die mure gelê. Die werk word met ywer gedoen en vorder vinnig.
9 Ons het toe by die mense wat die leiding neem, navraag gedoen. Ons het vir hulle gesê: ‘Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te bou en sy timmerasie op te sit?’
10 Ons het ook hulle name gevra om vir u inligting op skrif te stel watter manne hulle leiers is.
11 “Hulle het ons soos volg geantwoord: Ons is dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons is besig om die tempel te herbou wat vroeër baie jare hier gestaan het. Dit is deur 'n groot koning van Israel opgerig en voltooi.
12 Maar ons voorvaders het die toorn van die God van die hemel op hulle laat kom, en Hy het hulle oorgegee in die mag van die Galdeër koning Nebukadnesar van Babel wat die tempel verwoes het en die volk na Babel toe weggevoer het.