20 Van die tempelslawe wat nog deur Dawid en sy amptenare geskenk is om die Leviete van diens te wees, het daar twee honderd en twintig man gekom. Almal se name is opgeteken.
21 Ek het daar by die Ahawarivier 'n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om 'n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het.
22 Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat.
23 Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.
24 Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle,
25 en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het.
26 Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud,