3 Jy moet sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan oor hierdie plek 'n ramp bring wat elkeen wat daarvan hoor, se ore sal laat tuit.
4 Julle het My verlaat en hierdie plek verontreinig deur hier vir ander gode offers te bring, gode waarvan julle, julle voorvaders en die konings van Juda nie voorheen geweet het nie. Julle het op dié plek baie onskuldige bloed vergiet,
5 julle het vir Baäl hoogtes gebou en julle seuns as brandoffers vir Baäl verbrand, 'n ding wat Ek nie beveel het nie en nie oor gepraat het nie en wat nooit by My opgekom het nie.
6 Daarom kom daar 'n tyd, sê die Here, dat dié plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal.
7 Op hierdie plek sal Ek 'n end maak aan die planne van Juda en Jerusalem. Ek sal hulle vyande hulle met die swaard laat afmaai, hulle oorlewer in die mag van mense deur wie hulle nie gespaar sal word nie, en Ek sal hulle lyke deur voëls en roofdiere laat opvreet.
8 En hierdie stad maak Ek iets waaroor mense net met afgryse vervul kan word en kan fluit. Elkeen wat hier verbykom, sal van verbasing fluit oor alles wat die stad getref het.
9 Jerusalem sal beleër word deur vyande wat nie sy inwoners sal spaar nie. Hulle posisie sal benard word: Ek sal hulle hulle eie kinders laat eet, en die mense sal mekaar eet.