5 julle het vir Baäl hoogtes gebou en julle seuns as brandoffers vir Baäl verbrand, 'n ding wat Ek nie beveel het nie en nie oor gepraat het nie en wat nooit by My opgekom het nie.
6 Daarom kom daar 'n tyd, sê die Here, dat dié plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal.
7 Op hierdie plek sal Ek 'n end maak aan die planne van Juda en Jerusalem. Ek sal hulle vyande hulle met die swaard laat afmaai, hulle oorlewer in die mag van mense deur wie hulle nie gespaar sal word nie, en Ek sal hulle lyke deur voëls en roofdiere laat opvreet.
8 En hierdie stad maak Ek iets waaroor mense net met afgryse vervul kan word en kan fluit. Elkeen wat hier verbykom, sal van verbasing fluit oor alles wat die stad getref het.
9 Jerusalem sal beleër word deur vyande wat nie sy inwoners sal spaar nie. Hulle posisie sal benard word: Ek sal hulle hulle eie kinders laat eet, en die mense sal mekaar eet.
10 Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is,
11 en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek. Hulle sal van Tofet 'n begraafplaas maak omdat daar nie ander plek sal wees nie.