9 Jerusalem sal beleër word deur vyande wat nie sy inwoners sal spaar nie. Hulle posisie sal benard word: Ek sal hulle hulle eie kinders laat eet, en die mense sal mekaar eet.
10 Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is,
11 en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek. Hulle sal van Tofet 'n begraafplaas maak omdat daar nie ander plek sal wees nie.
12 Dit is wat Ek aan dié plek en sy inwoners sal doen, sê die Here: Ek sal die stad soos Tofet maak.
13 Die huise in Jerusalem en die paleise van die konings van Juda sal soos die Tofetplek onrein wees, al die huise waar daar op die dakke wierookoffers gebring is vir die son, die maan en die sterre, en waar daar drankoffers uitgegiet is vir vreemde gode.
14 Nadat Jeremia teruggekom het van Tofet af waar die Here hom as profeet laat optree het, het hy in die voorhof van die huis van die Here gaan staan en vir al die mense daar gesê:
15 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan nou oor dié stad en oor al die ander stede al die onheil laat kom wat Ek laat aankondig het, want die mense het koppig gebly en wou nie ag gee op wat Ek vir hulle gesê het nie.