1 In die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, dit was die eerste regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het daar 'n woord tot Jeremia gekom teen die hele volk Juda.
2 Die profeet Jeremia het toe vir die hele volk Juda en vir al die inwoners van Jerusalem gesê:
3 Van die dertiende jaar van koning Josia van Juda, seun van Amon, af tot nou toe, drie en twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie.
4 Die Here het vroeg en laat sy dienaars die profete na julle toe gestuur, maar julle het nie geluister nie, julle het nie eers probeer luister nie.
5 Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het.
6 Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring.