14 Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.
15 Julle sou kon sê: “Nee, die Here het vir ons profete in Babel gegee,”
16 maar so sê die Here oor die koning wat nou op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap weggevoer is nie,
17 ja, so sê die Here die Almagtige: Ek laat oorlog, hongersnood en pes onder hulle los en Ek maak hulle soos oopgebarste vye wat so sleg is dat 'n mens dit nie kan eet nie.
18 Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder.
19 Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here.
20 Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het!