9 “Jy en jou seuns mag geen wyn of bier drink wanneer julle moet gaan diens doen in die tent van ontmoeting nie, want dan sal julle sterwe. Dit is 'n vaste voorskrif, ook vir julle nageslag.
10 Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd is en wat nie gewyd is nie, tussen wat onrein is en wat rein is.
11 Julle moet al die voorskrifte wat die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer.”
12 Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog gelewe het, Eleasar en Itamar, gesê: “Vat die graanoffer wat oorgebly het nadat die vuuroffer aan die Here gebring is, en eet dit by die altaar. Daar mag nie suurdeeg by kom nie. Omdat dit 'n besondere gewyde gawe is,
13 moet julle dit op 'n gewyde plek eet. Volgens die bevel wat ek ontvang het, is dit julle deel uit die vuuroffer wat aan die Here gebring word.
14 Maar die borsstuk van die beweegoffer en die boud uit die offergawe mag julle en julle familie op enige rein plek eet, want dit is die deel wat julle en julle familie toekom uit die maaltydoffers van die Israeliete.
15 Die Israeliete moet die boud uit die offergawe en die borsstuk wat as beweegoffer vir die Here aangebied is, bring wanneer hulle die vetdele bring wat vir die vuuroffer bedoel is. Hulle moet dit as beweegoffers aan die Here aanbied. Daarna kry julle dit. Die Here het beveel dat dit 'n vaste voorskrif moet wees.”