20 “Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring.
21 Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag.
22 So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na 'n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.
23 “Aäron moet dan in die tent van ontmoeting ingaan en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste ingegaan het, uittrek en dit daar neersit.
24 Hy moet hom op 'n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en die brandoffer vir die versoening van sy eie sonde bring, asook die brandoffer vir die versoening van die sonde van die volk.
25 Hy moet ook die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand.
26 Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moet sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom.