4 Julle moet my bepalings nakom en my voorskrifte gehoorsaam deur daarvolgens te lewe. Ek is die Here julle God.
5 Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here.
6 “Niemand van julle mag met 'n naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here.
7 “Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.
8 “Jy mag ook nie met 'n ander vrou van jou pa gemeenskap hê nie. Dit sal skande oor jou pa bring.
9 “Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met 'n halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.
10 “Jy mag nie met jou kleindogter gemeenskap hê nie, want sy is jou nageslag.