19 “Niemand mag gemeenskap hê met sy tante aan moederskant of aan vaderskant nie, want sy is 'n naaste bloedverwant. As dit gebeur, moet albei gestraf word.
20 As iemand met sy oom se vrou gemeenskap het, bring hy skande oor sy oom. Die man en die vrou moet die gevolge dra: hulle sal sterf as mense wat alle regte verbeur het.
21 As 'n man sy broer se vrou afneem, is dit 'n skandelike daad. Die man het skande oor sy broer gebring. Die man en die vrou verbeur al hulle regte.
22 “Julle moet al my voorskrifte en bepalings gehoorsaam en dit uitvoer. As julle dit nie doen nie, sal die land waarheen Ek julle laat trek om daar te woon, julle uitspoeg.
23 Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis 'n afsku van hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen.
24 Ek het julle belowe dat julle hulle land in besit sal neem. Dit is Ek wat hierdie land aan julle gee om dit in besit te neem, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die Here julle God, Ek het julle afgesonder van die ander volke.
25 Daarom moet julle by diere en voëls onderskeid maak tussen rein en onrein. Julle mag julle nie besoedel met die diere of voëls of met enigiets wat op die aarde kruip wat Ek afgesonder het as dinge waardeur julle onrein gemaak word nie.