7 “As 'n stuk kleinvee bo die vermoë van die persoon is, bring hy as skuldoffer vir sy sonde twee tortelduiwe of twee ander duiwe vir die Here, een as sondeoffer en een as brandoffer.
8 Hy bring hulle na die priester toe, en die priester bied eers dié een aan wat as sondeoffer bedoel is. Die priester knyp die duif se nek teen die kop af, maar verwyder nie die kop nie.
9 Hy sprinkel van die bloed van die sondeoffer teen die kante van die altaar, en die bloed wat oorbly, druk hy teen die fondament van die altaar uit. Dit is die sondeoffer.
10 Die tweede duif word as brandoffer gebring op die voorgeskrewe wyse. So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het, en word sy sonde vergewe.
11 “As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is 'n sondeoffer.
12 Hy neem die meel na die priester toe, en die priester vat 'n handvol daarvan as simbool vir die hele offer en verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. Dit is die sondeoffer.
13 So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het in enige van die genoemde gevalle, en so word sy sonde vergewe. Soos by die graanoffer, kom die meel wat oorbly die priester toe.”