23 Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”
24 Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan.
25 Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en 'n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.
26 Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.
27 'n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”
28 Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”
29 Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”