14 Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en
15 Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.
16 Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee.
17 Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe.
18 Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is,
19 of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is,
20 of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.”Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe.