22 Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou.
23 Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye.
24 As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem.
25 Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.
26 Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys.
27 Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.
28 Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.