38 Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe.
39 Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil.
40 Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”
41 Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie.
42 Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word,
43 want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”
44 Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie.