33 Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn.
34 Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in!
35 Toe het die Here 'n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer.
36 Daarna het die Here vir Moses beveel:
37 “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy.
38 Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.”
39 Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek.