1 Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê:
2 “Die Israeliete moet kamp opslaan, elkeen by sy vaandel, by sy familieteken. Hulle moet die kamp rondom die tent van ontmoeting opslaan, so 'n entjie daarvandaan.
3 “Aan die ooste, sonop se kant, moet die stam Juda kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Nagson seun van Amminadab is die leier van die stam.
4 Die getal van Juda se weerbare manne is 74 600.