30 Toe sê die donkie vir Bileam: “Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?” en Bileam antwoord: “Nee!”
31 Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.
32 Die Engel van die Here vra hom toe: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op 'n gevaarlike pad.
33 Die donkie het My gesien en drie keer vir My uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou al doodgemaak en hom laat leef.”
34 Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek was verkeerd, ek het nie geweet dat U my in die pad voorstaan nie. As U nie wil hê ek moet voortgaan nie, draai ek om.”
35 Toe sê die Engel van die Here vir Bileam: “Gaan saam met die manne, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”Bileam is toe saam met Balak se amptenare.
36 Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy hom tegemoet gegaan by Ar-Moab aan die oewer van die Arnon, op die grens.