5 Moses het toe vir die stamhoofde van Israel gesê: “Julle moet elkeen julle eie manne wat vir Baäl-Peor aangehang het, doodmaak.”
6 Onder dit alles het 'n Israelitiese man tog nog 'n Midianitiese vrou tussen sy familie in gebring. Hy het dit gedoen voor die oë van Moses en die hele gemeente van Israel wat by die ingang van die tent van ontmoeting gestaan en huil het.
7 Toe Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, sien wat die man doen, het hy uit die gemeente opgestaan, 'n spies gevat
8 en die man na die vrouetent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur die man tot in die onderlyf van die vrou. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot 'n einde gekom;
9 daar het vier en twintig duisend deur die ramp gesterf.
10 Die Here het toe vir Moses gesê:
11 “Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.