16 Hulle het toe vir Moses gesê: “Ons sal hier krale bou vir ons kleinvee en stede vir ons gesinne,
17 maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land.
18 Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.
19 Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”
20 Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg.
21 Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het.
22 Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting.