23 Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.
24 Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”
25 Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het.
26 Ons vrouens en kinders, ons kleinvee en ons beeste sal hier in die stede van Gilead bly,
27 maar al ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg soos u gesê het.”
28 Moses het toe vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel
29 gesê: “As die mense van Gad en Ruben, al hulle gewapende manne, saam met julle deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg, en die land aan julle onderwerp is, moet julle die Gileadgebied aan hulle as 'n besitting gee.