1 Hier volg nou 'n oorsig van die Israeliete se kampplekke nadat hulle volgens stamindeling onder leiding van Moses en Aäron uit Egipte getrek het.
2 Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van die kampplekke aangeteken. Dit is hoe hulle getrek het:
3 Hulle het uit Rameses vertrek op die vyftiende van die eerste maand, die dag ná die paasfees. Deur die magtige dade van die Here het hulle voor die oë van die Egiptenaars weggetrek
4 terwyl die Egiptenaars nog besig was om hulle eersgeborenes, wat deur die Here om die lewe gebring is, te begrawe. Dit is hoe die Here die oordeel oor hulle gode voltrek het.
5 Die Israeliete het van Rameses af weggetrek en by Sukkot kamp opgeslaan.