Numeri 5:11-20 AFR83

11 Die Here het aan Moses opdrag gegee

12-15 om vir die Israeliete te sê: “As 'n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en 'n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir 'n geval van agterdog, 'n offer wat moet aantoon of daar oortree is.

16 Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan.

17 Die priester moet 'n erdebak met gewyde water vol maak en van die tabernakelvloer se stof daarin gooi.

18 Dan moet hy die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan, haar hare losmaak en haar die voorgeskrewe offer, wat 'n offer vir die agterdog is, gee om vas te hou. Die priester moet die erdebak met water wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, self vashou.

19 Hy moet die vrou onder eed plaas en vir haar sê: As iemand anders nie met jou gemeenskap gehad het nie en jy as getroude vrou jouself nie met 'n ander man verontreinig het nie, mag jou onskuld dan bewys word deur hierdie water wat bittere smart en 'n vloek oor jou kan bring.

20 Maar as jy, as getroude vrou, ontrou was en jouself verontreinig het deurdat jy met iemand anders behalwe jou eie man gemeenskap gehad het,