21-22 mag die Here dan gee dat jou eie mense jou sal vervloek en verwens. Mag Hy jou vrugbaarheid laat vergaan en jou buik laat opswel. Mag hierdie water wat die vloek veroorsaak, in jou maag kom om jou buik te laat opswel en jou vrugbaarheid te laat vergaan.“Dit alles moet die priester sê vir die vrou wat staan onder 'n eed dat 'n vloek haar kan tref as sy skuldig is. Dan moet sy sê: ‘Amen, amen.’
23 “Die priester moet hierdie vervloekinge neerskrywe en die letters uitwis in die water wat bittere smart sou kan veroorsaak.
24 Hy moet die vrou van die water laat drink wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, sodat die water wat 'n vloek van bittere smart veroorsaak, in haar kan ingaan.
25 Daarna moet die priester uit haar hand die offer vat wat vir die agterdog bedoel is, dit in teenwoordigheid van die Here beweeg en dit na die altaar toe bring.
26 Die priester moet ook 'n handjievol van die graanoffer as simbool van haar hele offer vat en op die altaar verbrand, en daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink.
27 Die water wat hy haar laat drink, sal, as sy haar verontreinig en troubreuk teenoor haar man gepleeg het, in haar ingaan en die vloek meebring wat bittere smart sal veroorsaak, en dit sal haar buik laat opswel. Haar vrugbaarheid sal vergaan en haar mense sal haar vervloek.
28 Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie en getrou was, sal haar onskuld bewys word en sal sy kinders kan kry.