14 “As 'n vreemdeling wat by julle woon, die paasfees vir die Here wil vier, moet hy dit volgens die bestaande voorskrifte en bepalings doen. Een en dieselfde voorskrif geld vir julle almal: vir die vreemdeling en vir die landsburger.”
15 Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe.
16 So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur.
17 Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan.
18 Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly.
19 Wanneer die wolk 'n geruime tyd op die tabernakel gerus het, het die Israeliete die diens van die Here waargeneem en nie weggetrek nie.
20 Soms het die wolk net 'n paar dae op die tabernakel gerus. Wat die geval ook al was, op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sý bevel het hulle weggetrek.