32 Jefta het na die Ammoniete toe getrek om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy mag oorgegee.
33 Jefta het hulle van Aroër af verslaan tot waar 'n mens kom by Minnit, twintig stede. By Abel-Keramim was daar 'n groot veldslag. Die Ammoniete is voor die Israeliete verneder.
34 Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koordanse. Sy was sy enigste kind. Hy het nie nog 'n seun of 'n dogter gehad nie.
35 Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur en gesê: “Ag, my dogter, jy het my gebreek en in die ellende gedompel: ek het my woord aan die Here gegee en ek kan dit nie terugtrek nie.”
36 Jefta se dogter het hom geantwoord: “Pa, Pa het Pa se woord aan die Here gegee. Doen met my wat Pa gesê het nou dat die Here vir Pa gehelp het om Pa se vyande, die Ammoniete, te straf.”
37 Sy het verder vir hom gesê: “Bewys my net hierdie guns: gee my twee maande uitstel om berge toe te gaan en daar saam met my vriendinne te gaan treur oor my lewe as jongmeisie.”
38 Hy het vir haar gesê: “Gaan gerus maar!”Hy het haar twee maande vrygelaat, en sy en haar vriendinne het berge toe gegaan en gaan treur oor haar lewe as jongmeisie.