1 Die manne van Efraim is vir oorlog opgeroep en het deur die Jordaan getrek na Safon toe. Hulle het vir Jefta gaan sê: “Waarom het jy alleen opgetrek om teen die Ammoniete te gaan veg? Waarom het jy ons nie opgeroep om saam met jou te gaan nie? Ons gaan jou huis bokant jou kop afbrand.”
2 Jefta het hulle geantwoord: “Ek en my manskappe was in 'n ernstige stryd gewikkel met die Ammoniete, en ek het julle hulp ingeroep. Maar julle het my nie uit hulle mag kom red nie.
3 Toe ek merk daar is niemand wat my kom red nie, het ek my lewe gewaag en teen hulle opgetrek. Die Here het hulle in my mag oorgegee. Waarom kom julle nou teen my oorlog maak?”
4 Jefta het toe al die manne van Gilead opgeroep en teen Efraim oorlog gemaak, en die manne van Gilead het vir Efraim verslaan. Die mense van Efraim het altyd vir hulle gesê: “Julle mense van Gilead is weglopers uit Efraim en Manasse.”
5 Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer 'n Efraimitiese vlugteling sê: “Ek wil deurgaan,” sê hulle vir hom: “Jy is 'n Efraimiet.” As hy sê: “Nee, ek is nie,”
6 sê hulle vir hom: “Sê 'n bietjie: Sjibbolet,” maar dan sê hy: “Sibbolet,” want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood. In daardie tyd het daar twee en veertig duisend man van Efraim gesneuwel.