4 Jefta het toe al die manne van Gilead opgeroep en teen Efraim oorlog gemaak, en die manne van Gilead het vir Efraim verslaan. Die mense van Efraim het altyd vir hulle gesê: “Julle mense van Gilead is weglopers uit Efraim en Manasse.”
5 Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer 'n Efraimitiese vlugteling sê: “Ek wil deurgaan,” sê hulle vir hom: “Jy is 'n Efraimiet.” As hy sê: “Nee, ek is nie,”
6 sê hulle vir hom: “Sê 'n bietjie: Sjibbolet,” maar dan sê hy: “Sibbolet,” want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood. In daardie tyd het daar twee en veertig duisend man van Efraim gesneuwel.
7 Jefta was ses jaar lank 'n leier van Israel. Jefta die Gileadiet het gesterf, en hy is begrawe in een van die stede in Gilead.
8 Na Jefta was Ibsan uit Betlehem die leier van die Israeliete.
9 Hy het dertig seuns en dertig dogters gehad. Hy het sy dogters met mans laat trou wat nie aan sy stam behoort het nie, en vir sy seuns het hy dertig vrouens van buite sy stam af laat kom. Hy was sewe jaar lank leier van die Israeliete.
10 Ibsan het gesterf, en hy is begrawe in Betlehem.