12 Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy 'n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”
13 Sy het geantwoord: “Meneer, u bewys my 'n guns, u laat my goed voel, u is vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.”
14 Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.”Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het,
15 het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie;
16 julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val. Sy mag dit optel sonder dat julle haar daaroor aanspreek.”
17 Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram.
18 Sy het dit gevat en saamgeneem stad toe. Haar skoonma het gesien hoeveel sy bymekaargemaak het. Rut het ook van die kos wat sy oorgehou het, vir haar skoonma gegee.