1 Ek, die ouderling, skryf hierdie brief vir julle. God het julle gemeente gekies en ook almal wat aan julle gemeente behoort. Ek is lief vir julle, want julle weet wat die waarheid is wat van God kom. En dit is nie net ek wat lief is vir julle nie. Almal wat die waarheid ken wat van God kom, is ook lief vir julle,
2 want die waarheid bly in ons harte en dit sal altyd by ons wees.
3 Ek bid dat God die Vader en Jesus Christus, die Seun van die Vader, genadig sal wees vir ons en dat Hy vir ons goed sal wees wanneer ons swaarkry. En ek bid dat Hy vir ons vrede sal gee, sodat ons God se waarheid en liefde sal ken.
4 Ek was baie bly toe ek party van julle gelowiges ontmoet het, mense wat lewe soos die Vader wil hê. Ja, Hy het gesê ons moet so lewe.
5 Gemeente, ek vra nou vir julle om lief te wees vir mekaar. Dit is nie ’n nuwe wet wat ek vir julle gee nie. Ons het hierdie wet van die begin af.
6 As ons lief is vir mekaar, dan doen ons wat God vir ons sê. Dit is die wet wat julle van die begin af gehoor het. Dít is wat julle moet doen.
7 Daar is baie mense wat weggegaan het van ons en wat leuens vertel in die wêreld. Hulle sê hulle glo nie dat Jesus Christus regtig ’n mens was nie. Iemand wat so iets sê, lieg. Hy is die antichris.