1 Ek, Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, skryf hierdie brief vir julle almal wat God se mense is in Filippi, almal wat aan Christus Jesus behoort. Ek skryf ook vir julle, ouderlinge en diakens. Timoteus, ook ’n dienaar van Christus Jesus, skryf die brief saam met my.
2 Ek bid dat God ons Vader en die Here genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.
3 Elke maal wanneer ek aan julle dink, dan sê ek vir my God dankie.
4 Elke maal wanneer ek vir julle almal bid, dan word ek bly,
5 want vandat julle die goeie boodskap die eerste maal gehoor het, tot nou toe, help julle my om daardie boodskap na ander mense toe te bring.
6 God het begin om ’n goeie ding in julle harte te doen. Ek is baie seker dat Hy dit sal klaarmaak op die dag wanneer Christus Jesus weer kom.
7 Dit is heeltemal reg dat ek so oor julle dink, want julle is lief vir my. Julle almal dink altyd aan my en julle weet hoe goed God vir my is terwyl ek nou ’n gevangene is en hier kan vertel dat die goeie boodskap reg en waar is.