15 Party van die mense hier preek oor Christus omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry. Maar ander mense preek oor Christus omdat hulle goed wil doen.
16 Hulle preek omdat hulle lief is vir Christus en hulle weet ek is ’n gevangene omdat ek vertel dat die goeie boodskap oor Christus reg is.
17 Maar die ander mense preek omdat hulle selfsugtig is. Ja, hulle is vals. Hulle wil hê dat ek nou nog swaarder moet kry terwyl ek ’n gevangene is.
18 Party mense is vals wanneer hulle preek, en party mense wil goed doen wanneer hulle preek. Maar dit maak nie vir my saak hoekom hulle preek nie. Hulle preek almal oor Christus, en daaroor is ek bly. En ek sal aanhou om bly te wees,
19 want julle bid vir my, en die Gees van Jesus Christus help my. Daarom weet ek dat God alles wat gebeur, sal gebruik om my te red.
20 Ek hoop en ek weet seker dat God my sal help en dat Hy my nie sal los nie. Ja, ek wil altyd, soos voorheen, graag wys dat Christus die belangrikste is. Daarom maak dit nie saak of ek sal lewe en of ek sal sterf nie.
21 As ek lewe, dan lewe ek vir Christus, en as ek sterf, dan is dit vir my nog beter.