1 Ná 14 jaar het ek en Barnabas weer na Jerusalem gegaan. Ek het vir Titus saamgeneem.
2 Ek het gegaan omdat God gesê het ek moet daarnatoe gaan. In Jerusalem het ek vir die gelowiges verduidelik hoe ek die goeie boodskap vir die heidene preek. Toe ek alleen by die belangrike leiers was, het ek dit vir hulle ook verduidelik. Ek wou seker maak dat ek die regte boodskap preek.
3 Titus was saam met my. Hy is ’n Griek, maar die gelowiges in Jerusalem het nie vir hom gesê hy moet hom laat besny nie.
4 Daar was mense in die gemeente in Jerusalem wat nie regtig gelowiges was nie. Hulle het skelm kom luister na wat ek sê, want hulle wou my beskuldig omdat ek sê Christus Jesus het ons vrygemaak. Hulle wou hê ons moet weer slawe word van die Wette van Moses.
5 Ons het glad nie na hulle geluister nie. So het ons seker gemaak dat julle ook die waarheid van die goeie boodskap kon hoor.
6 Die belangrike leiers in die gemeente in Jerusalem het niks verander aan my boodskap nie. Dit maak nie vir my saak dat hulle belangrik is nie. God dink nie dat een mens belangriker is as ’n ander mens nie.