8 Ja, God het vir Petrus krag gegee om ’n apostel vir die Jode te wees en dieselfde God het vir my ook krag gegee om ’n apostel vir die heidene te wees.
9 Jakobus, Sefas en Johannes was die belangrikste leiers in die gemeente in Jerusalem. Toe hulle besef dat God baie goed was vir my, het hulle my en Barnabas se hande geskud en gesê ons kan almal saamwerk. Ek en Barnabas moes vir die heidene preek en hulle moes vir die Jode preek.
10 Hulle het net een ding vir my gevra, hulle het gevra dat ek ook die arm mense van die gemeente in Jerusalem moet help. Dit het ek baie graag gedoen.
11 Sefas het na die stad Antiogië gekom. Hy het daar iets gedoen waarvan God nie hou nie en ek het toe reguit vir hom gesê dat hy verkeerd doen.
12 Voorheen het hy altyd saam geëet met die Christene wat nie Jode was nie. Maar later het daar party van Jakobus se mense in Antiogië aangekom. Toe het Sefas skielik opgehou om saam te eet met die Christene wat nie Jode was nie, want hy was bang vir die Joodse Christene.
13 Toe het die ander Joodse Christene dit ook gedoen, hulle was net so skynheilig soos Sefas. Ook Barnabas het skynheilig geword.
14 Ek het gesien hulle doen verkeerd, hulle verander die waarheid van die goeie boodskap. Daarom het ek vir Sefas gesê, en almal het dit gehoor: “Sefas, jy is ’n Jood, maar jy lewe soos die mense wat nie Jode is nie. Nou sê jy vir die mense wat nie Jode is nie, dat hulle soos Jode moet lewe. Jy mag dit nie doen nie.