Galasiërs 3:15-21 ABA

15 Vriende, ek gaan nou ’n voorbeeld gebruik om te verduidelik wat ek sê: Wanneer ’n mens ’n testament gemaak het, dan kan iemand anders dit nie verander of sê dit beteken niks nie.

16 Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God ’n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus.

17 God het eers sy verbond gemaak met sy volk en 430 jaar later het Hy die wette gegee. Nou sê ek: Die wette het baie later gekom, daarom kan die wette nie God se verbond verander en God se belofte breek nie.

18 As ons eers moet doen wat die wette sê sodat ons dit kan kry wat God vir ons wil gee, dan kry ons dit omdat ons doen wat die wette sê, nie omdat God dit belowe het nie. Maar ons weet God het dit vir Abraham gegee omdat God goed was vir Abraham en omdat God dit belowe het.

19 Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee.

20 God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een.

21 Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie.