10 Terwyl Jesus weggegaan het en die apostels na die hemel gekyk het, het daar skielik twee manne by hulle gestaan, die manne het wit klere aangehad.
11 Die manne het gesê: “Manne van Galilea, hoekom kyk julle so na die hemel? God het vir Jesus weggeneem na die hemel, maar dieselfde Jesus sal weer kom soos julle gesien het dat Hy weggaan na die hemel.”
12 Die apostels was op die Olyf-berg, naby Jerusalem, so ver soos ’n mens op die Sabbatdag mag loop. Hulle het toe teruggegaan na Jerusalem.
13 Toe hulle in Jerusalem kom, het hulle na die huis se bo-kamer gegaan waar hulle gebly het. Die apostels se name was: Petrus en Johannes en Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Simon die patriot en Judas die seun van Jakobus.
14 Die apostels het altyd saam gebid, saam met ’n paar vroue. Jesus se ma Maria en sy broers het ook saam gebid.
15 Eendag was daar omtrent 120 mense bymekaar. Toe het Petrus, die leier, opgestaan en vir hulle gesê:
16 “Vriende, die Heilige Gees het lank gelede vir Dawid gebruik om in die Ou Testament iets te sê oor Judas. Julle weet dat Judas vir die Joodse leiers gesê het hoe hulle vir Jesus kan vang. Daardie woorde in die Ou Testament móés waar word, en dit hét gebeur.