26 Maar Petrus het vir Kornelius gehelp om op te staan en hy het vir hom gesê: “Staan op! Ek is self ook net ’n mens, soos jy.”
27 Terwyl Petrus met Kornelius praat, het Petrus ingegaan in die huis. Hy sien toe daar is baie mense
28 en hy sê vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie by iemand mag wees wat nie ’n Jood is nie, ’n Jood mag ook nie vriende wees met iemand wat nie ’n Jood is nie. Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie.
29 Daarom was ek nie ongehoorsaam nie en het ek gekom toe julle gesê het dat ek hiernatoe moet kom. Sê nou asseblief vir my hoekom het julle gesê dat ek moet kom?”
30 Kornelius sê toe vir hom: “Drie dae gelede, op presies hierdie selfde tyd, drie-uur in die middag, was ek besig om te bid in my huis. Skielik het daar ’n man met blink klere voor my gestaan
31 en hy het gesê: ‘Kornelius, God het geluister na jou gebed en Hy het die goeie dinge gesien wat jy gedoen het.
32 Jy moet nou mense na die stad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Hierdie Simon Petrus woon daar by ’n ander Simon, ’n leerlooier, sy huis is by die see.’