33 Daarom het ek dadelik mense na jou toe gestuur, en jy was baie vriendelik om hiernatoe te kom. Ons almal is nou hier bymekaar waar God ons kan sien. Ons is hier om te luister na alles wat die Here vir jou gesê het om vir ons te sê.”
34 Toe het Petrus begin praat en gesê: “Ek verstaan nou waarlik dat God nie dink een persoon is belangriker as ’n ander persoon nie.
35 Nee, in elke volk hou God van die mense wat Hom respekteer en wat die dinge doen wat God wil hê.
36 Julle ken die boodskap wat God vir die Israeliete gestuur het. Jesus Christus het daardie goeie boodskap van vrede vir hulle gebring. En Hý, Jesus, is die Here van almal.
37 Julle weet van die dinge wat gebeur het in die hele Joodse land. Dit het alles in die provinsie Galilea begin toe Johannes die Doper gepreek het oor die doop waarmee hy die mense doop.
38 Julle weet dat God die Heilige Gees in Jesus van Nasaret laat kom het en dat God vir Hom krag gegee het. God was by Jesus, daarom het Jesus na baie plekke gegaan en Hy het goeie dinge gedoen: Hy het almal gesond gemaak wat baie swaar gekry het omdat die duiwel in hulle was.
39 En ons is getuies van alles wat Jesus in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het vir Jesus aan ’n houtpaal gehang en so het hulle Hom doodgemaak.