5 “Ek was besig om in die stad Joppe te bid, toe ek iets gesien het, soos in ’n droom. Ek het gesien dat iets soos ’n groot stuk lap uit die hemel afkom na my toe, en dit het gelyk of iemand die lap aan die vier hoeke vasgehou het.
6 Toe ek goed kyk, het ek gesien in die lap is daar diere wat vier pote het en wat op die aarde bly, daar was ook wilde diere en diere wat kruip en voëls.
7 En ek het gehoor dat Iemand vir my sê: ‘Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.’
8 Maar ek het geantwoord: ‘Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is of wat onrein is nie.’
9 Maar die Persoon het die tweede maal uit die hemel vir my gesê: ‘God het hierdie diere rein gemaak. Jý moenie sê dit is onrein nie.’
10 Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap met alles daarin opgetrek in die hemel in.
11 En skielik het daar drie mans by die huis gestaan, die huis waarin ons was. Kornelius het hulle van Sesarea na my toe gestuur.