Handelinge 16:10-16 ABA

10 Nadat die Here dit vir Paulus gewys het, het ons dadelik probeer om met die skip na Masedonië te seil omdat ons geglo het dat God ons gekies het om die goeie boodskap vir daardie mense te bring.

11 Ons het met die skip weggeseil van die hawestad Troas, en toe het ons reguit na die eiland Samotrake geseil. Die volgende dag het ons na die hawestad Neapolis geseil.

12 Ons het van daardie stad na die stad Filippi geloop. Dit was ’n stad in die eerste deel van die provinsie Masedonië. Die stad was ook ’n kolonie van Rome. Ons het ’n paar dae in daardie stad gebly.

13 Op die Sabbatdag het ons uitgegaan by die stad se poort en ons het gegaan na ’n plek langs die rivier. Ons het geweet dat die Jode altyd daar kom bid. Ons het gaan sit en ons het begin praat met die vroue wat daar saam was.

14 Daar was ’n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was ’n handelaar in pers materiaal. Sy was nie ’n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het.

15 Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.”En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het.

16 Ons was eendag besig om na die plek te gaan waar die Jode gewoonlik gaan bid het. ’n Slavin het na ons toe gekom. Sy het ’n bose gees in haar gehad. Sy het altyd gesê wat in die toekoms sal gebeur, en so het sy baie geld gekry vir haar eienaars.