15 Die mense wat saam met Paulus gegaan het, het hom na die stad Atene gebring. Paulus het vir hulle gesê dat hulle vir Silas en Timoteus moet gaan sê om dadelik na hom toe te kom. Hulle het toe van daar teruggegaan na Berea.
16 Terwyl Paulus in die stad Atene vir Silas en Timoteus gewag het, het Paulus baie kwaad en ontsteld geword toe hy sien dat die stad vol beelde van afgode was.
17 Paulus het in die sinagoge gepraat met die Jode en die Grieke wat vir God respekteer. Hy het ook elke dag op die mark met almal gepraat wat daar gekom het.
18 Party filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met Paulus gestry. Party van hulle het gesê: “Hierdie man is ’n grootmond, hy spog baie. Wat wil hy vir ons leer?”Ander mense het gesê: “Ons dink hy is ’n boodskapper van gode wat ons nie ken nie.”Hulle het dit gesê omdat Paulus vir die mense vertel het van die goeie boodskap van Jesus en dat God mense weer sal laat lewe.
19 Hulle het toe vir Paulus na die vergadering op die Areopagus geneem en vir hom gesê: “Ons wil nou weet wat die nuwe dinge is wat jy vir die mense leer.
20 Want party dinge wat jy sê, het ons nog nie voorheen gehoor nie. Daarom wil ons weet wat hierdie dinge beteken.”
21 Hulle het dit gevra, want al die mense wat in die stad Atene gewoon het, en ook die vreemdelinge wat daar gewoon het, het altyd baie tyd gehad om te praat oor iets wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie, of om daarna te luister.