17 Paulus het in die sinagoge gepraat met die Jode en die Grieke wat vir God respekteer. Hy het ook elke dag op die mark met almal gepraat wat daar gekom het.
18 Party filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met Paulus gestry. Party van hulle het gesê: “Hierdie man is ’n grootmond, hy spog baie. Wat wil hy vir ons leer?”Ander mense het gesê: “Ons dink hy is ’n boodskapper van gode wat ons nie ken nie.”Hulle het dit gesê omdat Paulus vir die mense vertel het van die goeie boodskap van Jesus en dat God mense weer sal laat lewe.
19 Hulle het toe vir Paulus na die vergadering op die Areopagus geneem en vir hom gesê: “Ons wil nou weet wat die nuwe dinge is wat jy vir die mense leer.
20 Want party dinge wat jy sê, het ons nog nie voorheen gehoor nie. Daarom wil ons weet wat hierdie dinge beteken.”
21 Hulle het dit gevra, want al die mense wat in die stad Atene gewoon het, en ook die vreemdelinge wat daar gewoon het, het altyd baie tyd gehad om te praat oor iets wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie, of om daarna te luister.
22 Paulus het toe voor die vergadering op die Areopagus gaan staan en hy het gesê: “Mense van Atene, ek sien dat julle aanhou om julle gode te dien saam met alles wat julle in julle lewe doen.
23 Ek het deur julle stad geloop en ek het gekyk na die plekke waar julle al julle gode aanbid. Toe het ek ook ’n altaar gekry en op die altaar is daar geskryf: ‘Hierdie altaar is vir die god wat ons nie ken nie.’ Ek wil vir julle vertel van hierdie God, julle ken Hom nie, maar julle aanbid Hom.