7 Op die eerste dag van die week het ons in die aand bymekaargekom en ons het almal saam geëet. Paulus het met die gelowiges gepraat. Hy wou die volgende dag verder gaan en daarom het hy baie lank gepraat, hy het gepraat tot in die middel van die nag.
8 Ons was almal bymekaar in die bo-kamer, en daar het baie lampe in die kamer gebrand.
9 Eutiges, ’n jongman, het in die venster gesit en luister. Toe Paulus baie lank aanhou praat, het Eutiges baie vaak geword en hy het aan die slaap geraak. Eutiges het so vas geslaap dat hy uitgeval het by die venster. Hy het van die tweede verdieping tot op die grond geval. Toe die mense hom optel, was hy dood.
10 Paulus het afgekom na onder en hy het op Eutiges gaan lê. Hy het sy arms om Eutiges gesit en gesê: “Julle moenie so hard huil en treur nie! Hy is nie dood nie, hy lewe.”
11 Toe het Paulus weer boontoe gegaan. Nadat hy geëet het, het hy nog ’n lang tyd met die gelowiges gepraat, hy het gepraat tot dit oggend geword het. Toe het hy verder gegaan.
12 Die gelowiges het die seun weggeneem, hy het gelewe. Dit wat gebeur het, het die gelowiges baie bemoedig.
13 Ons het voor Paulus met die skip na die stad Assus geseil. Ons wou vir Paulus by Assus oplaai. Paulus het gesê ons moet dit doen, want hy wou self oor die land na Assus gaan.