6 Paulus het gesien dat party van die lede van die Joodse Raad Sadduseërs is en dat party van hulle Fariseërs is. Daarom het hy hard voor die Joodse Raad gepraat en hy het gesê: “Vriende, ek is ’n Fariseër en my pa was ook ’n Fariseër. Ek glo en ek weet dat God mense wat gesterf het, weer sal laat lewe, dit is seker. Dit is hoekom ek vandag hier is en hoekom julle my moet oordeel.”
7 Toe Paulus dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs met mekaar begin stry, en al die mense wat daar was, het in twee groepe verdeel.
8 Hulle het gestry, want die Sadduseërs glo nie dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe nie. Hulle glo ook nie dat daar engele of geeste is nie. Maar die Fariseërs glo dit alles.
9 Almal het baie geraas en geskree. Party van die skrifgeleerdes wat ook Fariseërs was, het opgestaan en hulle het baie gestry en gesê: “Ons dink nie hierdie man, Paulus, het iets verkeerd gedoen nie! Miskien het ’n engel of ’n gees met hom gepraat.”
10 Toe het almal nog meer gestry en geraas. Die hoof-offisier het bang geword dat hulle vir Paulus stukkend sou skeur. Daarom het die hoof-offisier vir die soldate gesê hulle moet hardloop en hulle moet vir Paulus gaan gryp en hom terugneem na die soldate-kamp.
11 Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en Hy het vir Paulus gesê: “Jy moenie moedeloos word nie! Jy het nou vir die mense in Jerusalem van My vertel. So moet jy ook vir die mense in Rome van My gaan vertel.”
12 Daardie oggend het die Jode ’n geheime plan gemaak om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê: “God is ons getuie en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het!”