11 “Omtrent twaalf dae gelede het ek na Jerusalem gegaan om te aanbid.
12 Toe die Jode my in die tempel gekry het, was ek nie besig om met iemand te stry nie. Ek het ook nie mense opstandig gemaak nie, nie in die sinagoges nie, en ook nie op ander plekke in die stad Jerusalem nie.
13 Hulle sê nou dinge teen my, maar hulle kan dit nie bewys nie.
14 “Maar een ding is waar, ek is een van die mense wat behoort aan ‘Die Pad.’ Die Jode sê ons is ’n groep mense wat verkeerde dinge glo. Ek aanbid die God van ons voorvaders en ek glo alles wat in die Wette van Moses geskryf is en alles wat die profete geskryf het.
15 Ek glo en weet dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe, die mense wat reg gedoen het en ook die mense wat verkeerd gedoen het. Die Jode glo dit ook.
16 Daarom probeer ek altyd baie hard om so te lewe dat ek kan weet en kan glo dat ek alles reg doen, soos God wil hê ek moet doen en soos mense wil hê ek moet doen.
17 “Ek het ná baie jare teruggekom en ek het geld gebring vir die arm mense van my volk. Ek het ook gekom om offers te bring.