1 Festus het die nuwe goewerneur geword en hy het na daardie provinsie gekom. Ná drie dae het hy van die stad Sesarea na Jerusalem gegaan.
2 Daar in Jerusalem het die priesterleiers en die belangrike Jode vir Paulus by Festus beskuldig. Hulle het baie mooi vir Festus gevra
3 dat hy iets goed moet doen vir hulle. Hulle het gevra dat Festus vir Paulus moet laat haal in Sesarea en dat hy vir Paulus na Jerusalem moet bring. Maar die priesterleiers en die Jode het ’n geheime plan gemaak, hulle wou mense stuur wat langs die pad moet wegkruip en wat dan vir Paulus moet doodmaak.
4 Maar Festus het gesê dat Paulus in Sesarea in die tronk moet bly. Festus het ook gesê dat hy gou na Sesarea sal teruggaan.
5 Hy het gesê: “Dan kan julle leiers saam met my na Sesarea gaan, en as Paulus iets verkeerd gedoen het, dan kan julle hom beskuldig.”
6 Festus het nog omtrent ag of tien dae in Jerusalem gebly en toe het hy teruggegaan na Sesarea. Die volgende dag het hy op die regterstoel gaan sit en vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal.
7 Die soldate het vir Paulus gebring en toe het die Jode wat van Jerusalem gekom het, rondom hom gaan staan. Hulle het vir Paulus beskuldig en hulle het baie slegte dinge teen hom gesê, maar hulle kon dit nie bewys nie.