5 Hulle ken my ’n lang tyd. As hulle wil, dan sal hulle kan sê dat ek die waarheid praat wanneer ek sê dat ek ’n Fariseër was en dat ek gelewe het soos die Fariseërs. Die Fariseërs is die strengste groep in ons godsdiens, hulle lewe presies soos die wette sê.
6 En nou staan ek voor jou sodat jy my kan oordeel omdat ek glo en weet dat God sal doen wat Hy vir ons voorvaders belowe het.
7 Ons twaalf stamme hou aan om vir God te dien, want ons weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Ja, koning Agrippa, die Jode beskuldig my omdat ek weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het.
8 Hoekom wil julle nie glo dat God mense wat gesterf het, weer kan laat lewe nie?
9 “Voorheen het ek gedink dat ek baie slegte dinge moet doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.
10 In Jerusalem het ek baie slegte dinge gedoen aan die mense wat aan God behoort. Ek het baie van daardie mense in tronke laat gooi. Die priesterleiers het gesê ek mag dit doen. Ek het ook gesê dit is reg toe hulle die mense doodgemaak het wat aan Jesus behoort.
11 Ek het hulle baie maal gestraf en ek het gesê hulle móét in al die sinagoges slegte dinge sê teen God. Ek was baie kwaad vir hulle en ek het baie slegte dinge gedoen aan hulle, ook in die stede in ander lande, ver weg van Jerusalem.